Vertaal/Translate/Select your language

Vinaora Visitors Counter

1002132
Vandaag
Gisteren
Deze week
Vorige week
Deze maand
Vorige maand
Alles
38
355
2520
541972
7093
15654
1002132

Your IP: 3.238.70.175
2021-01-16 02:47

My Lewe In Suid Afrika, deel 2

 

Van Heystek na Markram tot Hattingh

 

Woon in 'n groot sinkstoor

Eers het ons in 'n groot sinkstoor gewoon, wat my pa en sy swaer, oom Hans op die plaas opgerig het. Met baie goeie beplanning is die meubels in die huis gebruik deur afskortings te definieer. Hangkaste (klere kaste) as mure, kombuis kaste vir die kombuis. Dit was voorwaar baie goeie onthou jare vir die later lewe. Daar het ons kinders ook geleer van respek vir mekaar en ander, is ons gedissiplineer, moes jy verantwoordelikheid aan die dag lê en bewys. Verskeie ander aspekte van lewensvaardighede wat jou lewe rigting gee en wat later in die groot mens lewe saak sou maak, en die opvoeding in sulke moeilike omstandighede was steeds van die beste gehalte. Alles wat ek is en gedoen het in die lewe was aan die hand van wat ek as kind by my ouers geleer het en toegepas het.

Ek onthou hoe ek en Rina (my suster Catharina Petronella) gehelp met, toe daar begin is met, die landerye maak gedink het dis snaaks om klippe uit die plek waar lande gemaak word met die hulp ook van die swart familie wat reeds op die plaas gebly het uit te ry met kruiwaens en onder die grens draad te pak. Heystek (my broer) was toe reeds op hoërskool in Rustenburg, en in die koshuis. Toe het ons nog geen benul gehad van verdere ontwikkelinge soos hierbo genoem wat op ons wag op die plaas nie. Dit was vir ons as dorpskinders 'n uitdaging en genieting om die veld te sien verander in lande waar my vader eers begin het met 'n mielie boerdery. Hy het ook, behalwe, die beeste wat hy dadelik aangeskaf het vir melk en botter (vir gebruik in die huis) en hoenders ook later varke en skape aangeskaf. My moeder het 'n geweldige groot groente tuin en vrugteboord aangelê, waar, veral voordat die plaas winsgewend begin produseer het, sy groente verkoop het aan die mynwerkers wat op die myne by Bleskop (die myne in die omgewing) gewerk het kon voorsien en sodoende het sy op daardie stadium haar kant van die geweldige span poging om van niets iets te maak nagekom. Ek kan met alle eerlikheid sê al het dit op daardie stadium finansieël nie net maanskyn en rose was nie, ons as gesin selfonderhoudend kon leef sonder enige gebrek. Ek dink dit was baie fyn beplanning en opofferinge van my ouers se kant om ons die geleenthede te bied wat ons wel in die lewe geniet het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoërskool studie

In 1957 is ek na Rustenburgse Hoërskoolvir my hoërskool loopbaan, en het in die skool koshuis tuis gegaan. Een naweek per maand, en met skool vakansies kon ons huis toe gaan. Hierdie leefwyse (op 13 jarige ouderdom alleen in die koshuis) het die selfstandigheid aspek van die lewe 'n groot hupstoot gegee. In 1963 het ek matriek (Standerd 10) geslaag. Die lewe op die plaas het elke jaar beter gegaan. My pa en ma het bitter hard gewerk maar werklik op daardie stadium was die plaas so te sê 100% gevestig.

 

Ek het dadelik nadat ek matriek geslaag het begin werk by die toenmalige Koringraad. Vandaar het ek aanbeweeg na die Suid Afrikaanse Spoorweê en toe na die Krygstuig Raad. In 1966 is my vader op 5 Julie oorlede. Daardie Desember is ek op 10 Desember 1966 in Waverley getroud met David Cornelius de Wet. In daardie jare moes jy jou werk bedank wanneer jy die dag trou.

Uit hierdie huwelik was 'n seun en twee dogters gebore.

Ø  Albertus Hendrik1967

Ø  Anna Johanna1969

Ø  Thelma Christina1972

 

Dorpie Mpumalanga

Ons het eers vir twee jaar op Witbank, 'n dorp in die huidige Mpumalanga, nou bekend as Emhalenhleni gewoon. My seun is daar gebore. Daarna in Pretoria gewoon en toe in 1973 getrek na 'n klein hoewe (plot) aan die Oostekant van Pretoria. Daar het ons, hoofsaaklik ek, want hy was die broodwinner wat by Krygkor rekenaar programeerder was, begin met eers 'n varkboerdery en later het ons die heuwels van die kleinhoewe beplant met proteas en dit was 'n groot uitdaging en projek. Die proteas het later opgemaak vir die varkboerdery wat ons toe afgeskaf het en konsentreer het op gehalte produk blomme. Het ook ons eie protea kwekery bedryf vir ons eie gebruik. Dit het ek vaarwel geroep toe ek in 1981 geskei het van hom.

 

Na Durban

Op daardie laat stadium van my lewe, (35 jaar oud), moes ek 'n loopbaan begin bou om myself en die drie kinders te kan voorsien van wat in die lewe benodig word. Ek het wel besluit dat ek dan onder sal begin, weer in die administratiewe rigting. Ek het in die Staatsdiens by Departement van Statistiek begin werk. In 1987 het ek 'n oorplasing gekry na die Durban Streekkantoor van die departement. Ek en Thelma (my jongste dogter) wat toe in standerd 8 was het dit ons tuis basis gemaak. Ons het 'n meenthuis kompleks in Queensburgh ons tuiste gemaak. Daar het ek my huidige man (James Frederick “Jimmy” Hattingh) leer ken. Hy was ons buurman en vanaf dag een, wat ons die plek eers skoongemaak het voordat ons daar ingetrek het, was daar 'n spontane vriendskap.

 

Durban is geleë aan die ooskus in die provinsie KwaZulu-Natal en vorm die op twee na grootste stad in Suid-Afrika. Deur die plaaslike bevolking van Zulu's word die stad ook wel eThekwini genoem.

 

Oorplasing Pretoria

Pretoria is geleë in die provinsie Gauteng staan bekend as die stad van die Jakaranda's. Hierdie perskleurige bome gee die stad 'n fraai voorkoms in die maande van September en Oktober. Slegs al is dit net daarom is dit aan te beveel hierdie pragtige stad een keer’n besoek werd is. Daarbenewens is Pretoria die administratiewe hoofstad van Suid-Afrika. Die Uniegebou is dan ook die gebou waar die Parlement die een helfte van die jaar eintlik sit. Die ander helfte van die jaar word daar vergader in Kaapstad. Hierdie gebou op sig self is werklik ‘n besoek werd.

In die suidelike gedeelte van die stad staan die Voortrekkermonument, 'n imposante massiewe gebou waar verskillende belangrike dokumente bewaar word wat betrekking het op landaankoop uit die vorige eeu sowel as ‘n baie volledige museum wat hoofsaaklik toegespits is op die lewens. wel en wee van die Voortrekkers. Dit is opgerig ter herdenking aan die Groot Trek van die Voortrekkers vanaf die Kaap Kolonie na die Noorde vanaf 1835 tot 1854. Die hoeksteen van hierdie monument is op 16 Desember 1938 gelê en eers 11 jaar later op 16 Desember 1949 is die gebou amptelik geopen

Op Vrydag 2 Augustus 1991 het ons twee in die huwelik getree. Sewe dae daarna kry ek berig van die Departement van Finansies dat ek die daaropvolgende maand my pos in Pretoria moet vul. Dit was nie moontlik nie, moes die huis verkoop, reël om in Pretoria blyplek te kry, my eggenoot wat in diens van SA Poskantoor was moet reël vir 'n oorplasing. Ek het aangebied om op 1 Oktober in Pretoria te begin. Jimmy kon nie dadelik 'n oorplasing kry nie en kon eers aan die einde van Desember 1991 Pretoria toe kom. Ons het ons lewe daarna gerig en omdat dit 'n bevorderingpos vir my was, en ek 7 jaar jonger as hy is, en hy besluit het dat ek die professionele verdiener is en groot gedagtes gekoester het vir die toekoms en hy reeds die plafon van sy loopbaan bereik het, sal ons dit aanvaar en Pretoria toe trek. Ek het baie hard gewerk en alles gegee wat ek kon, en met interne opleiding het ek afgetree as 'n adjunk direkteur. Ek was onder andere gemoeid met die streekkantore van die Pensioen Administrasie (Staats amptenare se pensioenfonds) en ook die opleiding van al die verskeie staats- en provinsialekantore. Ek het self die opleidingstukke opgestel en het van provinsie na provinsie gereis op 'n gereelde basis om opleiding te verskaf en baie van Suid Afrika leer ken wat ek nie sou kon doen as ek nie in so 'n posisie gestel was nie.

 

 

 

Woon nou in Rayton

Amper drie jaar gelede het ons verhuis na Rayton. Die huis en erf in Pretoria was te groot vir ons om aanhoudend 100% te onderhou. Ons woon nou in 'n veel kleiner huis, met kleiner erf en in 'n baie rustige omgewing. Jimmy was ook 'n geesdriftige oudheid versamelaar, en die huis is vol pragtige antieke meubels. Ons het nie regtig plek vir alles nie, maar ons kan nie afskeid neem van sulke pragtige en waardevolle items nie.

 

Rayton het ontstaan op die plaas Elandshoek en is nie baie groot nie. Dit lê in die noordooste van die provinsie Gauteng en gaan steeds meer inwoners tel. Dit is geleë sowat 40 kilometers van Pretoria en 100km vanaf Johannesburg. Dit was oorspronklik genoem Rayton Junction. In omtrent 1895 is die trein spoorlyn van Pretoria na Lourenco Marques (Mosambiek), gebou verby die klein dorpie. Dis ook geleë sowat vyf kilometers van die dorp Cullinan waar die Kimberliet diamant aar ontdek is deur sir Thomas Cullinan. Dit het gemaak dat die dorpie gestig is. Die delwers het hier ook gedelf in die hoop om die groot diamant te vind. Die groot een, het hierdie mense egter ontwyk, en is gevind by die myn in Cullinan, in Januarie 1905.

 

 

Nawoord

Met dit deur my geskryf "portret" wens ek dat die Nederlandse Heijstek familie enigsins `n beeld gekry het hoe ons gewoon en gewerk het in Suid Afrika. In 'n volgende artikel sal ek meer in detail beskryf oor my verblyf en lewe met ouma Annie vanaf begin 1955 tot einde 1957.

 

word vervolg met: Verblyf en lewe met ouma Annie vanaf begin 1955 tot einde 1957

 

Lees ook

My Lewe In Suid Afrika, deel 1

My Lewe In Suid Afrika

 
 
 
 

Plaats reactie


Beveiligingscode
Vernieuwen